Dudu kan nou gaan slaap

Ten spyte van al die probleme rondom die verkryging van die SAL se Airbustransaksie, sal die voorsitter van die raad, Dudu Myeni, die transaksie nie kan sink of na haar hand dirigeer nie.

Linden Birns, woordvoerder van Airbus, het gister bevestig dat die SAL voldoen het aan die sperdatum van 28 Desember om sy dokumentasie in te dien sodat sy ruiltransaksie met die Franse vliegtuigvervaardiger kan voortgaan.

Dié verwikkeling beteken dat Myeni, die SAL-raadsvoorsitter met nou bande met pres. Jacob Zuma, nie haar sin gekry het nie.

Myeni wou die transaksie verander sodat die SAL die A330-300-vliegtuie koop en dit dan aan plaaslike ondernemings verkoop, by wie die SAL dan die vliegtuie sou huur.

Gerugte doen die rondte dat die derde party in die transaksie wat Airbus versigtig gemaak het en Myeni nie wou openbaar nie, die Guptas was.

Daar word algemeen aanvaar dat Nhlanhla Nene se teenkanting van Myeni se plan bygedra het daartoe dat Zuma hom as minister van finansies afgedank het en aanvanklik met die onbekende ANC-agterbanker Des van Rooyen vervang het voordat hy onder druk vir Gordhan in sy ou pos heraangestel het.

Die vliegtuie behoort teen die einde van volgende jaar afgelewer te word. Al waarvoor nou gewag word is dat die SAL die spesifieke kwalifikasies vir die 5 A330-300 vliegtuie verskaf sodat produksie kan begin, het Birns gesê. 
Die A330-300 is ’n breëromp-passasiersvliegtuig wat tot 350 passasiers kan vervoer, afhangende van die lugdiens se spesifikasies.
Pravin Gordhan, Minister van Finansies, het verlede week beveel dat die SAL voortgaan met die omruiltransaksie in pas met die ooreenkoms wat in Julie aangegaan is.
Daarvolgens sal die SAL die aankoop van tien A320-vliegtuie ruil vir die huur van vyf A330-300-modelle.
Die nasionale tesourie was in direkte kontak met Airbus om te verseker dat die nodige stappe gedoen word om die ooreenkoms af te handel, lui Gordhan se verklaring.
Dié ooreenkoms beteken dat die SAL nie meer bykomende voorafleweringsbetalings wat tot $40 miljoen (sowat R610 miljoen teen Dinsdag se wisselkoers) moet betaal nie.
Die SAL sal soos hy elkeen van die A330’s in ontvangs neem die voorafleweringsbetalings terugkry. Dit beloop in totaal $100 miljoen (sowat R1,52 miljard).
Dit sal nie meer van die SAL vereis word om waardedalingsdebiete te betaal nie, aangesien dit nie meer vliegtuie aankoop nie, het Gordhan gesê. Dit kon tot R1 miljard beloop.
Die transaksie sal die lugdiens se geldelike posisie verbeter deur die kontantvloeidruk te verminder en winsgewendheid te verbeter. Verdere stappe sal volgende jaar gedoen word om die lugredery te stabiliseer, het Gordhan gesê.