Droogtevoeding is ‘n fyn kuns

Dit is nie almal wat met ’n weldeurdagte plan hulle diere voed gedurende die maer jare nie, en gevolglik gaan baie manure en geld onnodig verlore.

Boere kan die voeding van hulle diere tot ’n fyn kuns ontwikkel wat verseker dat niks verlore gaan, en geen onnodige arbeidsure vermors word nie.

Die advies is saamgestel deur ’n landboukundige van Transvaal wat graag sy kennis met boere wil deel in die swaar tye van droogtes.

Voordat ’n voer-program ingestel word, moes die boer eers sy diere bemark het wat nog ’n redelike prys kan behaal, om daarmee die wat gevoer moet word, veel minder te maak as wat gewoonlik op die plaas aangehou word onder normale omstandighede.

Ten eerste moet boere seker maak om nie diere wat meer as 30% gewig verloor het, te voer nie. Sulke diere moes reeds vroeër op die voedings-rooster gewees het.

Voer kan uit verskillende tipes bestaan, maar ou veldgras kan saam met verskillende voersoorte gemeng word. Die droë gras wat van die veld gesny en fyner gmaal is, kan met molasse en minerale gemeng word.

In droogtetyd word enige vreetbare stof as voer gebruik, en kan wissel van turksvyblaaie tot ou veldgras.

Die boer moet sy aanteelvee, dit wil sê, die koeie en ooie wat swaar dragtig kan wees, eerste begin voer om die gehalte van die aankomelinge op goeie standaard te hou.

’n Stewige voedingsprogram vir dié diere verseker ook dat hulle die kalwers en lammers behoorlik sal voed met genoeg melk van goeie gehalte, en sal weggooi lammers tot ’n minimum beperk.

Die ander diere hoef nie dieselfde voeding te kry nie aangesien hulle normaalweg baie vinnig herstel na die droogte, terwyl die ooie en koeie ’n langer tyd nodig het.

Dit is raadsaam om met ou materiaal krippe te maak waarin die voer gegooi kan word, maar met sparre kan elkeen se vreet-spasie afgebaken word om seker te maak almal kry hulle kos sonder inmenging van ander diere.

Maak seker dat al die diere wat gelyktydig kos kry, afgesper is van die ander wat nog moet kry indien die krippe nie lank genoeg is om almal gelyktydig te voer nie.

Die hoeveelheid voer moet uiters beperk wees vir die diere, want hulle moet aan die lewe bly en nie in gewig toeneem nie.

Die diere hoef nie daagliks gevoer te word nie, behalwe die dragtige en dié wat reeds gekalf en gelam het. Hulle behoort stiptelik gevoer te word.

Waar moontlik moet gepoog word om diere se kampe so in te rig dat daar genoeg water is, en skaduwee as dit haalbaar is.

Speenkalwers op vervroegde ouderdom, van sowat 18 weke om die koeie as droë diere te voer wat aansienlike kostebesparend kan wees, terwyl lammers op 9 tot 10 weke gespeen kan word.