Droogte, hitte nog lank met ons

Donderbuie het sporadies verligting gebring in dele van die binneland, veral in gebiede soos Wes- en Oos-Transvaal, terwyl ander gebiede steeds smag na somerreën wat maar net nie wil kom nie.

Die Weerdiens in Bloemfontein voorspel egter ’n nuwe hittegolf wat sal voortduur tot die einde van die week.

Temperatuur metings van tot 42 grade Celsius word voorsien in verskeie gebiede, terwyl die moontlikheid van reën bitter skraal is.

Die heersende droogtetoestande het reeds in baie dele van die land tot watertekorte gelei, en die tekorte word al groter namate die hitte toeneem.

Die Vryburger het berigte ontvang uit groot dele van die land van boere wat besluit het om geen gewas aanplantings te doen nie, en gevalle is bekend van boere wat besluit het om al sy vee te verkoop om die moontlikheid van ’n lang uitmergelende voertyd uit te skakel.

Tot hede is onderaardse water nog redelik sterk in die meeste gebiede en kan veeboere voorsien in die behoefte van diere, maar goeie veevoer raak al duurder en is nie vrylik beskikbaar nie.