Dokters sku vir hoë versekering

Die moontlikheid van eise teen dokters is ‘n risiko wat veroorsaak dat hulle liewer die beroep verlaat as om tot R400,000 per jaar vir versekering te betaal, indien ‘n pasiënt hulle hof toe wil sleep.
’n Neurochirurg en ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Regsmediese Vereniging (SAMLS), dr. Herman Edeling sê die vrees kan ook nadelig vir pasiënte wees.
Reeds is daar nie genoeg dokters in die land nie. As daar minder dokters is, gaan daar meer skade weens nalatigheid wees, het hy gewaarsku.
Sommige dokters volg ook deesdae ’n verdedigende benadering en sal byvoorbeeld ’n pa­siënt meer toetse laat ondergaan as wat nodig is uit die vrees dat die pasiënt hom sal dagvaar as hy iets misgekyk het. Dit stoot die koste van behandeling op.
Verloskundiges en ginekoloë se jaarlikse versekering kos sowat R400,000, sê Joey Hanekom, skakelbeampte van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Verloskundiges en Ginekoloë.
Dit is een van die spesialisvelde met die meeste én duurste ­eise, soos ook spinale chirurgie en neurochirurgie, ortopedie en plastiese chirurgie.
Die koste van eise teen dokters in Suid-Afrika het die afgelope ses jaar die hoogte ingeskiet. Sedert 2009 het die waarde van sulke eise met meer as 14% per jaar gestyg, volgens inligting van die Mediese Beskermingsvereniging (MPS). Die MPS dek die regskoste en skadevergoedingseise van sowat 30,000 medici.
Die MPS meen regshervorming is nodig, want die huidige stelsel is duur en tydrowend en onverdienstelike eise glip deur. Hy stel ook ’n klagteproses voor om geskille te probeer oplos.
Edeling en die SAMLS meen bemiddeling, eerder as litigasie, is die oplossing aangesien dit vinniger en goedkoper is.