Die jaar in woorde en in dade

Die laaste weke van 2015 is, wat die NSA as staat betref, ´n tragiese satire – tragies omdat die nommer een fontein van stommiteite Afrikaners blameer vir die gevolge van sy arrogante kortsigtigheid, tragies omdat ons die prys betaal.

Die jaar het in dieselfde waan begin, met ´n Zuma-ANC haatspraak veldtog teen Afrikaners, deur 343 jaar se opbou en ontwikkeling as “die begin van onvrede” te bestempel.

 Insiggewend dat hulle tog lustig aan die vrugte van daardie “onvrede” smul.

Hierdie verdraaiing van ons volksgeskiedenis word nou die regverdiging om ons erfenis sistematies aan te val – standbeelde is verniel, verwyder en die onderliggende geskiedenis verdraai.

Afrikaans word toenemend gemarginaliseer, as eerste stap tot ´n byna seker afskaffing in komende jare.

In onlangse weke is ons land deur Zuma se optrede nóg meer bespotlik gemaak, is miljarde se (spaar)geldwaarde verwoes weens die insinking van ons geldeenheid – ´n slag wat diegene wat vir goed en dienste betaal in komende maande by die betaalpunt gaan voel!

En les bes word die blanke sydelings blameer in “versoeningsdag” uitsprake vir oproepe vir Zuma om te bedank.

Niks vreemd nie – want buiten die leuens en halwe waarhede, word die “legacy of apartheid”-refrein soos klokslag gedreunsing!

Die langsame agteruitgang van dienslewering gaan onverpoosd voort, terwyl openbare ondernemings net meer en meer dienskoste verhogings eis.  Alles terwyl vakbonde, politici en hulle “bruikbare idioot” volgelinge dans – in tragiese herinnering aan Rome van ouds se laaste dae.

Oktober het “volksgenote” by die duisende saam met die sport-en-spele wêreldbeker stroom gegaan – na 20 jaar was dit weer nodig dat die wêreld ´n sport-sousie oor die droeë bene van ANC-voorspoed gooi!

Op ander fronte het die sekere segmente van die vakbondwese ons ekonomie verder lamgelê, terwyl ander met 5-jaar planne voorendag kom wat, teen alle logika in, meen hierdie gebroke stelsel kan net “herstel” word deur dit te ondersteun en uit te bou!

Insiggewend: Om foute reg te maak moet ons volhou met dieselfde foute?

Getrou aan hulle tradisie, het die parlement gepraat – praat – praat … dit is nou wanneer stakende vakbondlede nie parlementêre werk ontwrig het nie.

Maar om eerlik te wees – as jy bykans R 1,000,000 per jaar kry om te praat, waarom dan nie.

En, ongelukkig saam met die heidens-humanistiese stroom het ons nuwe hoogtes van kerklike verval ervaar – verval wat dreig om doodeenvoudig af te breek in die naam van “menseregte”.

Maar daar is ´n ander Suid-Afrika, óns Suid-Afrika:

Daardie land wat nie meer geografies aangedui kan word nie, maar waar onbaatsugtige volksgenote werk en woeker op die volksakker.

Baie haal nie altyd die voorblaaie nie – omdat hande, tyd en middele min is, word daar maar min gepraat, MAAR BAIE GEDOEN.

Ons volksekonomie groei, organies en geskoei op eie kapitaal vir eie sake.

Ons eie skole se prestasies staan kop en skouers uit bó openbare skole – met beperkte middele hou ons kers vas met die beste, rykste skole.

Ons kultuur beleef klein, maar waardevolle herontwakings.

Uit volkseie kring stap ons voor om te werk aan oproepe tot ´n geloofs-herontwaking met die 2017-Hervormingsfees.

Die vryheidspad was in 2015 weer mildelik besaai met struikelblokke – grootliks kunsmatig, ander doodgewone volks-onbetrokkenheid.

Maar regoor óns Suid-Afrika is daar Gideons-bendes aan die werk, besig om elke struikelblok te pak, en hulle tot boublokke van volksvryheid af te breek.

Joffre Papenfus