Derde see-ongeluk in 2 maande

In ‘n derde voorval in minder as twee maande in hierdie omgewing word daar gesoek na twee tienerseuns wat Dinsdagoggend deur branders van die rotse by Voëlklip afgeslaan is.

Die voorval het tussen 5:00 en 6:00 plaasgevind. Die twee het saam met ’n 29-jarige familielid gaan hengel.

Die 29-jarige man het die voorval oorleef en is na behandeling in ’n plaaslike hospitaal ontslaan.
Die seuns, beide 14 jaar oud, is nefies. 

Polisieduikers is ingespan om te help soek. Die soektog sal Woensdag voortgesit word.
Op 2 November is Gabriel Harker (38), op dieselfde plek deur branders van die rotse afgeslaan. Sy lyk is eers ses dae later tussen Heroldsbaai en Glentana deur polisieduikers gevind.
Op 15 November het ’n uitstappie van drie vriende van George baie naby aan die plek tragies geëindig toe die bakkie waarmee hulle gery het oor ’n afgrond gery het. Dit is sowat 1 km van die uitkykpunt.

Twee van die oorledenes, Luandro Jansen (21) en MarNic Els (20) se lyke is ’n dag na die ongeluk gevind, maar die  derde insittende van die voertuig, Werner Finger (20), se lyk is nog nie gevind nie.