Damme se vlakke daal

Die droogte en dalende damvlakke is ‘n groot bekommernis vir die Departement van Water en Sanitasie.
Leonardo Manus, hoofdirekteur van infrastruktuur by die Departement sê damvlakke daal weekliks met 1%. Hulle is veral bekommerd oor voedselsekerheid in die land.
Hy het gesê hy het onlangs deur die Vrystaat gery en dinge lyk bitter sleg. Volgens Manus is amptenare van sy departement feitlik dag en nag besig om planne te maak om die land aan die gang te hou.
Hy sê mense wys maklik ’n vinger na die Departement, maar hulle kon nie die droogte keer nie en die Departement doen wat hy kan deur die water te bestuur wat beskikbaar is.
So word water byvoorbeeld van een rivierstelsel na ’n ander gepomp (soos van die Tugela- na die Vaalrivier) en die Departement moet sorg dat daar genoeg skoon water in Oos-Transvaal is om Eskom se kragstasies aan die gang te hou, het hy gesê.
Hy het daarop gewys dat waterverbruik nie afneem nie en die bietjie reën wat plek-plek val, te min is om die damme se water aan te vul.
Die Hazelmere-dam (in die Mdlotirivier) wat die eThekwini-metrogebied van water voorsien, is net 30,9% vol. Dit was verlede jaar in die ooreenstemmende tyd 37,6% vol.
Die Nzheleledam in die Limpoporivierkom is net 46,8% vol teenoor 84,5% in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.
Die Vaaldam is nou 54,3% vol teenoor 82,1% dié tyd verlede jaar.
Die Sterkfonteindam is 89,1% vol teenoor 98,2% verlede jaar.
Die Bloemhofdam is net 29,3% vol teenoor verlede jaar se 78,3%.
Foto: De Hoopdam