Chris Barnard sterf

Die bekroonde, Afrikaanse skrywer Chris Barnard (76) is Maandagoggend in die Wilgers-hospitaal in Pretoria aan ’n hartaanval oorlede.
Barnard was die afgelope twee weke in die hospitaal weens komplikasies ná ’n operasie waarin sy regterbeen geamputeer moes word.
Sy seun Simon was deurentyd by hom.
Hy word oorleef deur sy vrou, die filmregisseur Katinka Heyns, hulle seun Simon, sy seuns Johan, Stephan en Tian uit ’n vorige huwelik, sy stiefseun Reghard, en sy broer Sam.
Barnard sal onthou word as een van die veelsydigste skrywers, wat romans, jeugverhale, kortverhale, verhoog- en radiodramas, asook rolprent- en TV-draaiboeke, geskryf het.
Hy was een van die mees bekroonde Afrikaanse skrywers, wat onder meer die Hertzogprys twee keer en die CNA-prys drie keer ontvang het. In 2011 was hy die ontvanger van die Sala- (South African Literary Awards) toekenning vir ’n leeftyd se prestasie.
Foto: Chris Barnard