Celosia plante

Celosia of ook bekend as Hanekamme

 

Celosia is klein ornamentele plante in die Amaranthaceae familie. Hulle is eetbaar ook. Die generiese naam is afkomstig van die Griekse woord ‘kelos’ wat ‘gebrand’ beteken en dit verwys na die vlammende blomkoppe. Dit vertoon baie kleurvol in beddings. Hulle staan ook bekend as wolblomme en is baie bekend in ons land asook in Oos Afrika en kom ook in China voor.

Dit is ‘n jaarplant en hou lank in die grond en is maklik om te groei. Die blomkoppe van hierdie plant is soms verskillend van mekaar. Celosia moet direk in die tuin uitgeplant word in helder volson of gedeeltelike skadu. In baie warm areas is dit amper beter om hulle in gedeeltelike skadu te plant aangesien hul blare verlep kan raak in te warm son. Daar is ook dwergieplante beskikbaar wat tussen 6 – 12 duim hoog word wat mooi lyk as ‘n randplant in beddings en dan die groter tipe Celosias kan tot 1 meter hoog word. Die plante groei ook baie goed in vogtige areas. Hulle is nie baie vatbaar vir meeldou en ander plantsiektes nie maar pasop vir slakke en watervlieg.

Hierdie plante kan ook in potte geplant word en selfs binnenshuis gehou word mits dit genoeg lig en voedsel kry. Hou die grond klam maar dit moenie in water staan nie. Voed die potplante maandeliks met vloeibare huisplant kunsmis.

Om die beste blomvertonings te kry, is dit goed om die plant terug te knip en so sal hierdie plante ook baie langer mooi bly in die tuin en al hoe meer blom. Die blomme kan 8 – 10 weke mooi vertoon. Die plante kan voortgeplant word met saad. Volgens bronne vorm hierdie plante sommer baie saad en 1,000 sade kan 1 – 1,2 gram weeg. Wanneer Celosias klaar sade geproduseer het, gaan hulle gewoonlik dood.

In Indonesië en Indië gebruik hulle hierdie plante soos groente. Dit is glo baie voedsaam. Dit word omtrent soos spinasie gaargemaak.

Tuiniers mag u sommer baie blommende Krismisrose in u tuin geniet en geniet ook ‘n heerlike glasie koue gemmerbier met vrugtekoek onder die koeltebome in u tuin. Geseende Kersfees vir u almal.