Brittanje se grootste koop-dag

Ontleders sê 26 Desember is die dag waartydens sakeondernemings hulle grootste verkope het as die mense in hulle duisende die winkels bestorm om afslagwinskopies op te raap in stede van twee dae vroeër ten duurste daarvoor te betaal.

Winskopiejagters het ’n modegier ontwikkel om die dag na Kersfees die winkels storm te loop, en dan winskopies te kry wat wissel van 20 tot 60% korting.

Met kortings wat tot £150 per artikel beloop, word gereken dat die winskopiejagters op die dag soveel as £340 miljoen spandeer, wat dit die beste verkoopsdag van die jaar maak.

Van die winkels het al geleer om hulle produkte so hoog te merk, dat hulle gedurende Desember byna geen verkope toon nie, maar gedurende die laaste paar dae van die maand, 50% korting bied, en daardeur meer verkope realiseer teen die werklike verkoopprys as wat hulle in die res van die maand sou kon doen.

Die verkope op 26 Desember vanjaar het ’n gemiddelde bedrag van £96,000 per sekonde gerealiseer volgens die Kleinhandel Navorsingsentrum se verslag.

Winkeliers sukkel deesdae om hulle goedere teen goeie winsgrense te verkoop aangesien die aan-lyn ondernemings met veel minder oorhoofse kostes, dieselfde produk teen so veel as 30% goedkoper beskikbaar stel.

Na raming het 390,000 mense die dag na Kersfees die winkels bestorm om hulle jaarlikse Kers-inkopies te doen.

Die navorsing wat gedoen is, toon ook dat baie winskopie-jagters op 26 Desember hulle jaarlikse Kers-inkopies vir die volgende Kersfees doen.

Foto – Winskopie-jagters in Brittanje