Brande in Heilbron ondersoek

In die skilderagtige dorpie Heilbron in die Vrystaat is daar sedert 2012 reeds R10 miljoen skade deur brandstigters aangerig.
Verlede week het die inwoners saam met die plaaslike polisie en ander belanghebbendes vergader om ‘n oplossing vir die probleem te vind.
Inwoners kla dat hulle in vrees leef, want almal wonder wie die volgende slagoffer van brandstigting sal wees.
Kol. Hennie de Jager van die provinsiale speurtak in Sentraal-Transvaal het die vergadering bygewoon en gesê hy en ’n taakspan gaan al die klagtes van nuuts af ondersoek. Die eerste voorval van brandstigting het in Mei 2012 plaasgevind.
Nog ’n voertuig is onlangs uitgebrand het terwyl ’n vermeende brandstigter agter tralies is.
Meer as 40 voorvalle van brandstigting is in minder as vier jaar aangemeld. In Mei 2012 is tien brande in twee dae gestig. Verskeie geboue, ’n skool, voertuie, die biblioteek, ’n kwekery en ’n vulstasie is in die eerste brande beskadig.
Brande is dié jaar byna maandeliks gestig. Swaarvoertuie, twee supermarkte, ’n ysterwarewinkel, die hoërskool en ’n kleuterskool was geteiken.
In Desember 2012, terwyl Jean Pierre de Bruyn en Francois Steenberg in hegtenis was weens beweerde brandstigting, is sewe voertuie by die Heilbron-polisiekantoor aan die brand gesteek.
In 2013 het geen voorvalle plaasgevind nie. In 2014 het die brandstigters weer toegeslaan en twee voorvalle is aangemeld.
Vanjaar het die brandstigters hulle deeglik van hul taak gekwyt. Voertuie ter waarde van miljoene rande is beskadig en meestal heeltemal uitgebrand. Die dorp se stadsaal is ook in puin gelê.
Die Ngwathe-munisipaliteit was volgens inwoners ook na die vergadering genooi, omdat die dorp nie ’n behoorlike brandweerdiens het nie. Geen amptenaar van die munisipaliteit het egter die vergadering bygewoon nie.
Foto ter illustrasie