Blinde se sukses met Boerboele

Neville Comley van Theescombe is onlangs vir die vierde agtereenvolgende jaar as die Boerboelteler van die Jaar deur die Oos-Kaapse Boerboelvereniging aangewys.

Wat die prestasie nog meer merkwaardig maak is die feit dat Comley, wat aan retinitis pigmentosa ly, reeds op die ouderdom van 18 jaar meer as 90% van sy sig verloor het.

Met slegs sy gevoel en liefde vir diere het hy eers met skouperde gewerk.

Sowat agt jaar gelede, het hy ook die wêreld van opregte boerboeltelers ontdek.
Vir twee jaar lank het hy bloedlyne van boerboele bestudeer. Daarna het dit hom nog drie jaar geneem om die perfekte bloedlyne bymekaar te bring.

Sy geduld is beloon toe sy twee jaar oue skouhond, Ben-Hur opgelewer het. Dié hond het tans ’n punt van 92,3 – die hoogste in die provinsie.

‘n Topskouhond se bloedlyn beloop uiteindelik R10,000 vir enige voornemende teler wat ’n stukkie van Ben-Hur wil hê.