Beijing se inwoners versmoor

Fabrieke moes sluit, skole het gesluit en kinders moet in woonplekke bly, die motor verkeer moes met 50% verminder word, alles in ’n poging om die besoedelingsvlak te laat daal in Beijing.

Die besoedeling het gevaarlike hoogtes bereik, en die owerhede moes dringende maatreëls instel om seker te maak die mense versmoor nie in die erg besoedelde omgewing van veral die noordelike deel van die land nie.

Die regering het vir ’n tweede keer binne weke die “rooi alarm” in die stad laat afgaan in ’n poging om die sowat 23 miljoen inwoners te beskerm teen die besoedeling.

Die besoedeling het verlede Saterdag sy hoogste vlak vir vanjaar bereik en het glo op ’n stadium die gevaar-lyn verby gesteek.

Die besoedeling, wat nie hoër as 200 punte behoort te wees nie, het gedurende die afgelope week tot 303 in sekere dele van Beijing gestyg.

Die verwagting is dat die besoedeling in die week verder kan styg en selfs so hoog as 500 kan word indien drastiese maatreëls nie in werking gestel word nie.

Die Wêreld Gesondheid Organisasie (WGO) sê ’n besoedelingsvlak van nie meer as 25 punte oor ’n 24 uur tyd is aanvaarbaar, maar wanneer die besoedeling styg tot 200 vir langer as 72 uur, word dit uiters gevaarlik vir mense.

Die stad se verhittingstelsel word met steenkool bedryf, wat blykbaar die grootste oorsaak van die geweldige besoedeling is.

Die lugbesoedeling word gekoppel aan die stygende sterftesyfer, verskeie siekte toestande soos hartaanvalle, asook kanker en longsiektes

Foto – Beijing verlede Saterdag