Bediende laat bejaarde vrou arresteer

‘n Plaasvrou, Estelle Oberholzer (72) van Elandslaaagte, is deur haar huishulp se seun van poging tot moord aangekla.
Sy is Maandag deur twee speurders na Middelburg gebring waar sy ure by die speurtak deurgebring het. Sy is eers na middagete na die aanklagkantoor geneem om amptelik aangekla te word.
Haar man en ‘n vriendin is terug plaas toe om haar vuurwapenlisensie en identiteitsboekie te gaan haal. Daar was tekens dat iemand in die huis was. ‘n Tjekboek wat gewoonlik weggebêre is, het op die grond gelê.
Oberholzer se vuurwapenlisensie en ander kaarte was skoonveld, asook geld wat sy op die plaas gehou het vir onvoorsiene uitgawes.

Volgens Oberholzer het die seun gedurende vakansies by hulle gewerk. Hulle het hom ook gehelp om ‘n skootrekenaar te koop en om ‘n internetmodem te bekom om sy Graad nege studies te vergemaklik.
Hy was glo woedend omdat hulle hom nie onlangs wou help om aansoek vir krediet vir luidsprekers by OK Furniture te doen nie. Verlede Vrydagoggend het hy op die plaas opgedaag en aanhoudend aan mnr. Oberholzer geskree “I want my money! I want my money!”
Oberholzer, wat op daardie stadium in die huis was, het die geskree gehoor en na buite gestap. Mnr. Oberholzer en die seun het sowat 50 meter ver by die werf se hek gestaan. Die seun het ‘n voorwerp in sy hand gehad en dreigend nader aan mnr. Oberholzer gestap.
Oberholzer het ‘n waarskuwingskoot afgevuur. Sy beweer dat haar wapen na die grasperk langs haar gerig was.
Die klaer beweer egter dat hy gehoor het hoe die patroon verby sy kop fluit. “Hoe sal ek dan in die rigting skiet waar my man staan? Hy en my man het by mekaar gestaan. Ek sou dit tog nooit gedoen het nie,” het Oberholzer gesê.
Oberholzer se dogter het van Johannesburg af gery om haar te kom bystaan. Met ‘n groot gesukkel is sy, nadat sy ure in die aanhoudingselle spandeer het, laat Maandagaand op borg vrygelaat.
Sy het Dinsdag in die hof verskyn en haar saak is uitgestel tot 29 Desember vir vertoë.
Mnr. Oberholzer het intussen ‘n klag van aanranding by die polisie geopen en mev. Oberholzer een van diefstal.