Airbustransaksie gestuit

Kommentators wonder oor die toekoms van Dudu Myeni, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), nadat Pravin Gordhan, Minister van Finansies, haar plan om ‘n ruilooreenkoms met Airbus te verander, in die wiele gery het.
Die sperdatum vir die transaksie het Sondagnag verstryk.
Ingevolge ‘n verklaring deur die Tesourie sal die SAL-raad die ruilooreenkoms met Airbus waarvoor die tesourie al middel vanjaar goedkeuring gegee het, binne dae afhandel.
Daar was ’n groot gevaar dat Myeni se planne die beroerde geldsake van die SAL nog verder sou deurmekaarkrap.
Dit was bekend dat Nhlanhla Nene, tot onlangs Minister van Finansies, haar planne om eerder die vliegtuie aan te koop, teëgestaan het.
Hy het daarop aangedring dat Myeni haar by die oorspronklike huurooreenkoms hou wat in Julie beklink is. Kort daarna het pres. Jacob Zuma – ’n goeie vriend van Myeni – Nene afgedank.
Die Tesourie het Maandagaand gesê hy was regstreeks in kontak met Airbus om seker te maak dat al die stappe wat nodig was om die ooreenkoms af te handel, deurgevoer word.
Airbus was volgens die tesourie inskiklik en het versoek dat al die regsdokumente teen 28 Desember afgehandel moet wees.
Kragtens die ooreenkoms sal die SAL ’n transaksie vir die aankoop van tien Airbus A320-vliegtuie vervang met ’n huurtransaksie vir vyf A330-300-vliegtuie.
Die eerste voorafbetaling van R603 miljoen aan Airbus sou Maandag betaal moes word.
Met elk van die A330’s wat Airbus by die SAL aflewer, sal die voorafbedrae wat hy reeds betaal het, aan hom teruggegee word. Dit bedra altesame meer as R100 miljoen.
Die SAL sal volgens die tesourie ook nie meer aanspreeklik wees vir waardedalings nie omdat hy nie meer die vliegtuie koop nie. Dit kon meer as R1 miljard bedra het.