Aanslag teen Europa word verwag

“Die terroriste wil in een aanval, gelyktydig deur die hele Europa toeslaan”, sê ’n voormalige lid van die Islamitiese Staat (IS) wat in Europa woon.

Die voormalige IS-terroris, wat in Duitsland woonagtig is, maar tans tronkstraf uitdien, sê die terroriste se plan behels ondermeer om in verskeie lande gelyktydig hulle terreurdade uit te voer.

Die 27-jarige Duitse jihadis wat ’n rang in die militante IS-groep gehad het, is een van diegene wat betrokke was by die onthoofding van Siriese inwoners.

Die man, wat net as Harry bekend is, word nog deur die polisie ondervra in die hoop om meer betroubare inligting te bekom nadat hy op die lughawe van Bremen vasgetrek is.

Harry beweer dat hy drie maande by die terreurgroep in Sirië betrokke was, maar dat hy die wreedheid van die terroriste nie langer kon verduur nie.

Nou wil hy alles wat hy weet, aan die Duitse regering vertel.

Kenners van terrorisme meen egter die man is besig om bangmaakstories op te dis ten einde versagting te ontvang op sy opgelegde straf.

Die Duitse Intelligensiediens beweer dat sowat 750 inwoners van die land aangesluit het by die IS-terroriste in Sirië.