Zimbabwe se persvryheid val

 

Optrede deur die polisie het getoon dat persvryheid in Zimbabwe tot ’n val gekom het nadat joernaliste van die staat nie volgens die diktators se denke opgetree het nie.

Die staats joernaliste van die weekblad “Sunday Mail” staar beskuldigings in die gesig dat hulle valse beriggewing geplaas het.

Die joernaliste, een verslaggewer, asook die ondersoekredakteur, tesame met die hoofredakteur is vasgevat.

Die polisie optrede is ’n voortsetting van vorige geval toe ’n joernalis, wat ook ’n menseregte aktivis is, dit ronduit gestel het met betogings wat hy gereël het, dat die land se president, Robert Mugabe, dadelik moet bedank.

Op plakkate is aangedui dat die president moet bedank omdat hy die land se ekonomie ruïneer. Dit het die einde van sy loopbaan beteken en niemand is vandag seker oor waar die joernalis hom moontlik bevind nie.

Menseregte aktiviste in Zimbabwe is erg ontstel oor die joernaliste wat in diens van die staat is, en nou deur polisie in hegtenis geneem is.

Die joernaliste het berigte in die koerant geplaas waarin beweer word dat polisiebeamptes saamwerk met ’n sindikaat wat olifante in die Hwange Nasionale Park vergiftig om die ivoor te bekom.

Aktiviste en ander koerante beweer die optrede is daarop gemik om enige poging te smoor wat moontlik kan lei tot bekendmaking van die sindikaat se bedrywighede.

In 2013 het die regering van Zimbabwe ’n resolusie aanvaar om die reg van menings toe te laat en beskerm, maar sedertdien word vryskut joernaliste, en ander wat voltyds in die privaat sektor werksaam is, goed dopgehou en selfs geïntimideer deur veiligheidsmagte.

Aktiviste is dit eens dat die optrede slegs die punt van die ysberg is, en dat joernaliste dit nie kan waag om die volle waarheid bekend te maak nie.

Die joernaliste wat in hegtenis geneem is, is later op borg van $100 elk vrygelaat en moet eersdaags weer in die hof verskyn.