VSA koalisie slaan toe op IS olievelde

Die Amerikaanse koalisie het gesamentlike aanvalle uitgevoer op verskeie olievelde wat deur die Islamitiese Staat (IS) beheer word, en wat hulle grootste bron van inkomste genereer.

Die IS-magte beheer ryk olievelde in die oostelike deel van Sirië, en wend die inkomste aan in sy optrede teen burgerlikes en die regerings van Sirië en Irak.

Die optrede van die Koalisie-lugmag volg nadat Rusland vernietigende aanvalle op dosyne basisse van die terroriste uitgevoer het.

Rusland het verskeie olie-punte aangeval wat daarna produksie moes staak, en die nuwe aanvalle wat deur die koalisie uitgevoer word, kan die terroriste se bedrywighede drasties inperk.

Terwyl die VSA met frustrasie toegekyk het hoe die IS terroriste olie verkoop, was dit die Russe wat nie gehuiwer het om van die belangrikste olievelde met hewige lugaanvalle plat te vee nie.

’n Woordvoerder van die Amerikaanse Weermag sê een van die grootste olie opslagpunte van IS is verlede week vernietig, wat waarskynlik die terroriste se vermoëns drasties inperk.

Die IS terroriste verdien jaarliks sowat $500 miljoen uit hulle olie, wat hulle instaatstel om ’n deurlopende veldtog te voer.

Sedert die tweede helfte van Oktober word IS olie basisse aangeval, en die vermoede bestaan dat meer as 30 verskillende olie-punte reeds buite werking gestel is.

In die Omar olieveld is twee van die rykste oliebronne ook nie meer in produksie nie, en ontleders sê dit is een van die redes waarom IS leiers nou aanvalle op Russiese teikens wil uitvoer.

Die Amerikaanse lugmag beplan om minstens agt olie produksie punte buite werking te stel in die volgende paar weke, om sodoende die terroriste ekonomies te wurg, word gesê.

Foto – Amerikaanse Vegvliegtuig