Vleispryse spring deur die dak

Boere probeer soveel moontlik diere verkoop om die komende droogte met minder vee op die plaas te sit wat gevoer moet word.

Die grootskaalse verkoop van vee het tot gevolg dat die mark tans ’n ooraanbod het, wat onder normale omstandighede ’n daling in die vleisprys sou meebring.

Vanjaar gebeur dit nie. Die vleispryse het deur die dak gegaan en verdere stygings word verwag wanneer boere se slagvee alles verkoop is en die aanvraag meer is as wat aangebied word.

Boere wat reeds vir twee jaar sukkel weens die droogtetoestand, beskik nie meer oor vee wat bemark kan word nie, en in talle gevalle is die diere nou te maer om as slagvee verkoop te word.

Handelaars sê die prys gaan verder die hoogte in spring wanneer slagvee net nie meer beskikbaar is nie, en die aanvraag steeds styg.

Kommer bestaan oor die laer aanwas van skape en beeste weens die droogte, omdat boere eers wag om te sien of dit gaan reën voor die winter aanbreek.

Indien dit nie betyds reën nie, sal die aanwas van veral skape en beeste aansienlik daal, teenoor vorige jare, wat beteken dit kan selfs twee tot drie jaar neem voor boere weer genoeg diere het wat bemark kan word.

Met die Kersseisoen op hande kan verbruikers hulle regmaak vir vleispryse wat die beursies vinnig leegmaak.