Verwese lammers by keelaf stoetooie

Veediewe het vier stoetooie van ‘n boer in Chrissiesmeer gesteel.
Die boer en sy werkers het die spore gevolg en sowat 800m van die grootpad af op die karkasse van die ooie afgekom. Hulle lammers het verwese rondom gestaan.
Luttig van Huysteen van die plaas Spioenkop in die Chrissiemeer-omgewing sê die ergste van alles is nie net die wrede slagting van sy skape vir wie hy lief is en omgee nie, maar die onwilligheid van die polisie om die probleem hok te slaan.
Nie net het die pogings om die polisie van Chrissiesmeer en Carolina in die hande te kry, op ‘n nul uitgeloop nie, maar selfs ‘n polisiekaptein wat van die Oshoek-grenspos op pad Johannesburg toe was, en by die toneel verbygery het, kon nie hond haaraf maak nie.
Van Huysteeen het self die veediefstaleenheid in Ermelo probeer kontak, maar die offisier aan diens se foon was glo af.

Sy werkers het ’n verdagte man langs die pad sien staan, maar voordat hulle hom kon aankeer, het ’n rooi Honda Ballade die man opgelaai en weggejaag. Hulle het die registrasienommer neergeskryf.

Hy het die hulp van ander boere ingeroep wat later die verdagte voertuig by ‘n nabygeleë stat opgespoor het.
Agt uur nadat die misdaad ontdek is, het ‘n polisiekonstabel opgedaag en net die misdaadtoneel besoedel.
Van Huysteen sê mense in die stede verstaan nie onder watter moeilike omstandighede moet ‘n boer probeer staande bly nie.
Vee- en ander diefstal ruk handuit en die polisie kan, of wil, hulle nie bystaan nie. Volgens Van Huysteen het hy die afgelope jaar reeds 150 skape, ter waarde van R150 000, weens diefstal verloor.
Foto ter illustrasie