Slimkop se toekoms is oop

Ivan Zelich (17) van Brisbane in Australië het ’n IK van 180 en is nie ’n gewone skolier nie, want hy beskik oor vaardigheid wat almal verstom.

Hy was twee maande oud toe hy sy eerste woordjies gebrabbel het, en het al op sy eie ’n ingewikkelde wiskundige stelling geformuleer wat deur wiskundiges as merkwaardig beskryf is.

Sy ouers sê hulle het vroeg in sy lewe gesien dat hy besondere talente het, en moes dit in nederigheid aanskou hoe hy ontwikkel.

Op driejarige ouderdom het hy al met getalle gespeel wat sy ouers verstom gelaat het, en op 14 ontvang hy ’n uitnodiging van die Universiteit van Queensland, maar sy ouers het met wysheid oor hulle kind gewaak en nie die aanbod aanvaar nie.

Die ouers wou seker maak dat hy soos enige ander kind, sy skoolloopbaan voltooi en normaal ontwikkel as ’n seun met goeie gewoontes en geaardheid.

Saam met ’n ander jong geniale seun, Xuming Liang, wat hy op die Internet ontmoet het, ontwikkel hy “Die stelling van  Liang Zelich.”

Die twee is glo op dieselfde wiskundige “golflengte: en het onbewus van mekaar, aan dieselfde wiskundige probleem gewerk.

Ivan ontmoet eersdaags die grootste wiskundige in die wêreld, en daarvoor reis hy na Washington DC om ’n konferensie by te woon wat ook ’n bydrae sal lewer vir die ontwikkeling van ruimtevaart.

Ivan sal ook insette lewer oor moontlike wiskundige formules om die verband tussen bepaalde planete te vind.

Ivan sê alhoewel hy sy skoolloopbaan wil voltooi, het hy nie tyd om hoë punte in elke vak te behaal nie aangesien al sy tyd aangewend word om sy navorsing en ondersoeke te doen.