Russe tref drastiese maatreëls in Sirië

Die Russiese president, Wladimir Poetin, het aangekondig dat hy opdrag gegee het aan sy bevelvoerders om seker te maak dat geeneen weer sy vegvliegtuie sal afskiet wat besig is met aanvalle op IS-basisse nie.

Moskou het planne bekend gemaak waarin die ontplooiing van langafstand grond-tot- lug missiele naby die Turks-Siriese grens geplaas word om enige teiken te vernietig wat weer sy vliegtuie bedreig tydens aanvalle op terroristebasisse.

Die drastiese stap word geneem nadat ’n Turkse vegvliegtuig een van Rusland se vliegtuie afgeskiet het.

Vrese word al groter dat die optrede van Rusland verdere spanning tussen Moskou en NAVO kan veroorsaak aangesien Turkye ’n lid daarvan is.

Tot hede is ’n oorlog van beskuldigings en verdedigende woorde gevoer tussen Turkse en Russiese woordvoerders, wat nie bydra nie tot die internasionale versoeke dat die leiers die wrywing moet verminder deur verantwoordelike gesprekvoering met mekaar.

Pres. Erdogan van Turkye het probeer om die spanning te verlig deur tydens ’n mediakonferensie te sê Rusland is en bly ’n goeie vriend van Turkye.