Russe sny Oekraïne se gastoevoer

Die Russiese ekonomiese reus, “Gazprom” het Woensdag aangekondig dat hy die gastoevoer na die Oekraïne afsluit weens wanbetaling.

Volgens Gazprom se uitvoerende hoof, Alexei Miller, het die Oekraïne Neftogaz al die beskikbare gas gebruik waarvoor betaal is en geen nuwe betalings is gemaak vir verdere voorraad nie.

Met die wintermaande wat bitter koue weer in die Oekraïne meebring, kan dit tot chaos lei as die land sonder gas moet klaarkom, en kenners meen dit kan tot ’n nasionale ramp ontwikkel as iets nie baie gou gedoen word nie.

Die Russiese Minister van Energiesake, Alexander Novak, het gesê die gastoevoer is afgesny omdat geen betaling vir nuwe voorraad ontvang is nie.

Die afskakeling van gas beteken dat sowat 1 miljoen mense dadelik sonder gas sit en geen elektrisiteit het nie.

Die land het intussen sowat 300 draagbare kragopwekkers vanaf Rusland bestel in ’n poging om solank krag te voorsien aan sekere sektore.

Die Oekraïne se Eerste Minister, Arseny Yatseniuks, het later bekend gemaak dat sy land geen verdere gas aankope van Rusland sal doen nie, en is Naftogaz opdrag gegee om sy afhanklikheid van Rusland se gas voorsiening te verminder.

Die Oekraïne sal ook nie enige Russiese vliegtuie toelaat in sy lugruim nie, en direkte vlugte van en na Rusland word gestop.

Die optrede het Rusland genoop om die Oekraïne te waarsku dat steenkool voorsiening aan die Oekraïne se kragstasies ook gestaak kan word weens wanbetaling.