Russe ontplooi lug-afweer toerusting

Turkye sal waarskynlik in die toekoms tien keer dink voor hulle dit gaan waag om ’n Russiese vliegtuig af te skiet nadat Moskou sy lugafweertoerusting ontplooi het naby die Turks-Siriese grens.

Rusland se uiters moderne lugverdediging-sisteem is blitsvinnig na die gebied geneem met die opdrag om enige vliegtuig wat ’n Russiese vegvliegtuig bedreig, onverwyld af te skiet met die gesofistikeerde land-tot-lug missiel stelsel.

Met die toerusting kan die Russe enige gevegsvliegtuig binne ’n straal van 400 kilometer in die lug verpletter.

Militêre kenners sê die Russiese toerusting wat ontplooi is naby die Turkse grens het ’n intimiderende uitwerking op Turkye wat dit waarskynlik nie sal waag om weer betrokke te raak by ’n konfliksituasie met die Russe nie, aangesien die Turkse vegvliegtuie nie ’n kans staan teen die Russe se S-400 nie.

Die S-400 missiel is glo sowat agt keer vinniger as ’n Turkse F-16 vegvliegtuig, wat meebring dat ’n vliegtuig nie die missiel maklik kan ontduik nie.

’n Weermag woordvoerder van Amerika sê die teenwoordigheid van die S-400 toerusting maak die toedrag van sake veel meer ingewikkeld vir die koalisie lande wat in Sirië en Irak teenwoordig is