Russe ondersoek vliegtuigramp

Rusland het ’n taakspan saamgestel om die lugramp te ondersoek waarin 224 mense omgekom het toe die vliegtuig van Kaïro onderweg na Rusland, in die Sinai-woestyn neergestort het.

Ondersoekbeamptes het Sondag reeds begin met die moeilike taak om vas te stel wat die oorsaak is vir die onverwagse ongeluk.

Russiese woordvoerders het die eis van die Islamitiese Staat (IS) verwerp wat te kenne gegee het dat hulle die vliegtuig neergeskiet het uit weerwraak vir Russiese aanvalle op hulle basisse.

Die vliegtuigwrak wat oor ’n gebied van sowat 15 vierkante kilometer strek, moes deursoek word om die “swart kassie” op te spoor, wat blykbaar in ’n onbeskadigde toestand gevind is.

Ondersoekers sê die vliegtuig het in die lug uitmekaar gebars, wat ook verklaar waarom die wrakstukke oor ’n wye gebied gestrooi is.

Die moontlikheid dat dit ’n terreuraanval is, word nie uitgesluit nie, maar ’n meganiese fout is ’n ewe groot moontlikheid wat ondersoek sal word.

’n Voormalige deskundige van Frankryk, Alain Bouillard, is egter van mening dat dit baie onwaarskynlik is dat die vliegtuig neergestort het wens ’n meganiese fout aangesien die “opbreek” van die vliegtuig dui op ander faktore wat verreken moet word.

Die Egiptiese president, Abdel Fattah el-Sisi, het gesê sy land sal die ontledings doen van die “swart kassie” maar dit kan etlike weke in beslag neem.

In Rusland het vlae halfmas gehang en word duisende kranse gelê deur familie en vriende uit meegevoel met die naasbestaandes.

Die Amerikaanse Lugvaart Instituut beweer dat die vliegtuig nie deur ’n missiel of enige ander eksterne faktore in die lug opgebreek het nie, en dat beeldmateriaal bekom is via ’n Amerikaanse satelliet wat die voorval “gefotografeer” het.