Rusland verras G-20 lande

Die Russiese aanbod om die Oekraïne se skuldlas te verlig, is deur die Internasionale Monitêre Fonds verwelkom en het gesê dit is ’n positiewe stap om die land uit sy verknorsing te help.

Die Russiese president, Wladimir Poetin, het na afloop van die G-20 beraad in Turkye gesê sy land is bereid om die skuldlas van meer as $3 biljoen te herskommel om terugbetalings makliker te maak vir die Oekraïne.

Pres. Poetin sê in plaas daarvan dat hy aandring op betaling voor die einde van 2015, soos wat ooreen- gekom is, kan die Oekraïne dit in drie een jaar paaiemente betaal, vanaf 2016 tot 2018.

Politieke ontleders meen die toegewing van Rusland is ’n strategiese skuif om Westerse lande te dwing om dieselfde te doen, aangesien die Oekraïne biljoene verskuldig is.

Rusland se toegewing kan ook gesien word as ’n manier om druk op die Westerse lande toe te pas om nie verdere sanksies teen sy land in te stel nie.