Rusland staak samewerking met Turkse weermag

Die Russiese president, Wladimir Poetin, het sy land se mense agter hom geskaar toe hy opdrag gegee het dat Russe liefs nie meer hulle vakansies in Turkye moet deurbring nie.

Die gevoelige slag kan Turkye miljoene euro kos, aangesien sowat 4 miljoen Russe jaarliks die land besoek met hulle vakansies.

Rusland sal ook sy verbintenis met die Turkse Weermag beëindig, en geen verdere samewerking gee nie, sê die Russiese Minister van Verdediging.

Benewens die beeïndiging van samewerking tussen die twee lande, sal die “noodlyn” ook gestop word wat lugvaartinligting bokant die Siriese lugruim versamel en deurstuur.

Die drastiese stappe wat deur Moskou aangekondig is, het die spanning tussen die twee lande verhoog, en met die gesofistikeerde opsporingstoerusting wat naby die Siriese grens na Turkye ontplooi is, kan die goeie verhouding van vroeër moeilik herstel word.

Die optrede van Rusland volg nadat twee Turkse vegvliegtuie ’n Russiese vliegtuig met ’n missiel neergeskiet het.

Beide lande eis ’n verskoning van die ander een, wat daarop dui dat die goeie verhouding tussen die twee lande finaal op die rotse geloop het.

Rusland het ook aangekondig dat hy die handelsbetrekkinge tussen die twee lande kortknip, en geen uitvoere na Turkye toelaat nie.

Foto – President Poetin