Reuse Luiperdplant

Ligularia tussilaginea ‘Gigantea’ / Reuse luiperdplant

 

Ligularia tussilaginea of die reuse luiperdplant is in die familie Asteracea, die genus is Farfugium en die spesie is japonicum. Dit is ‘n besonderse plant wat graag onder koeltebome en boomvarings groei.

 

Hierdie plant het blink groot blare en is immergroen. Dit word juis maklik opgemerk in tuine oor die groot blink blare van die plant. Hierdie plant vorm ook ‘n mooi fokusplant in die tuin en vertoon sommer koel onder die bome. Die reuse luiperdplant moet gereeld water kry, dit moet nie uitdroog tussen watertoedienings nie. Die grond moet voortdurend klam wees maar dit moet goed dreinerend wees. Dit verg nie veel aandag nie behalwe gereelde water.

 

Die plant word 90 – 120 cm hoog. Dit verleen ‘n tropiese effek in die tuin. In warm klimate sal dit immergroen wees. Indien u in ‘n baie koue gebied woon, kan dit in potte geplant word en op die patio of ook binnenshuis in ‘n sonnige plek geplaas word. Ligularia tussilaginea is ‘n middelmatige groeier en die blaarstingels kom vanuit ‘n dik bol met wortels  in die grond.

 

Die reuse luiperdplant blom in die laatsomer tot vroegwinter. Die blomme is heldergeel. Na die blomtyd sal dit saad voortbring en die sade moet aan die plant gelaat word om heeltemal droog te word voordat dit gesaai word. Die plante kan ook verdeel word wanneer die plant sterk is, deur die bol en risome van mekaar te breek.

 

Tuiniers onthou om met handskoene aan te werk aangesien daar gedeeltes van hierdie plant is wat giftig is. Was ook altyd u hande al het u handskoene aangehad, nadat u met die plante gewerk het. 

 

Geniet u tuin tot volgende keer.