Reën, lieflike reën.

Lewegewende reën kan nog die hele week oor groot gedeeltes van Sentraal-Transvaal, Noord-Transvaal, Oos-Transvaal en Noordwes tot Sondag daagliks verwag word.

Goeie reën gepaard met haelstorms het sedert Sondag oor die gebied neergekom.

In die Hoedspruit-omgewing in Noord-Transvaal het boere Sondagmiddag miljoene rande se skade gely toe haelkorrels so groot soos tennisballe vernietiging gesaai het.

Tonnels waarin komkommers geplant is en mangoboorde is beskadig.

In Nelspruit het slegs tussen 2 mm en 22 mm reën geval, maar in die Krugerwildtuin is berigte ontvang dat dit nat is en die riviere begin styg.

Verskeie ongelukke het op die N4 plaasgvind nadat swaar reën en hael oor Witbank uitgesak het.

In Mayville in Pretoria het 90 mm reën in minder as 30 minute geval en die haelkorrels het dik op die grond gelê. Brakpan het ook onder hael deurgeloop.

Vlugte kon weens die storm nie van die O.R. Tambo-lughawe opstyg nie en vlugte wat wou land, moes herlei word. Van die inkomende vlugte is gevra om na Durban uit te wyk of om om te draai, sê Colin Naidoo, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Lughawensmaatskappy (Acsa).

Verkeer in Pretoria, Springs, Soweto en Brakpan is veral erg ontwrig deur hael en swaar reën in die laatmiddag-spitstyd.