Prasa soek sy geld terug

Die swart afgedankte hoofingenieur wat gelieg het oor sy doktersgraad, Daniel Mtimkulu en daardeur verantwoordelik was dat die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), miljarde verlies gelei het, word nou vir R20 miljoen gedagvaar.
Prasa eis in hofstukke wat Vrydag by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien is, die geld terug wat hy verdien het in die vyf jaar en vier maande dat hy in diens van dié agentskap was. 
Die eis beloop R19,687,842,88. Prasa eis die geld terug aangesien Mtimkulu sy kwalifikasies en ’n werksaanbod in die naam van die Duitse treinfirma DB Schenker vervals het om die pos en meer geld te kry.
Mtimkulu het van 1 April 2010 tot 23 Julie vanjaar vir Prasa gewerk. Die R19,6 miljoen bestaan uit sy bruto salaris vir dié tydperk, en bonusse en werkverwante uitgawes.
Die agentskap het ook ’n aansoek by die hooggeregshof ingedien om ’n kontrak van meer as R3,5 miljard vir die omstrede Afro4000-lokomotiewe ter syde te stel.
Prasa eis ook dat die 13 lokomotiewe, wat nie by Suid-Afrikaanse spoorlyne aangepas is nie, teruggegee word en dat die R2,65 miljard wat reeds aan die Spaanse verskaffer betaal is, aan hulle terugbetaal word.