Poetin en Merkel invloedrykste in wêreld

Kanselier Angela Merkel is volgens ’n berig in Forbes tydskrif, aangewys as die tweede invloedrykste en magtigste mens in die wêreld.

Die mees invloedrykste en magtigste persoon is pres. Vladimir Poetin van Rusland, en in die derde plek staan Barack Obama.

Volgens die ontleders is dit die eerste keer sedert meting gedoen word, dat die Amerikaanse president nie die magtigste persoon is nie.

Forbes tydskrif het die Russiese president beskryf as die “wêreld se mees magtige persoon” in sy jongste uitgawe wat verlede Woensdag verskyn het.

Dit is ook die eerste keer in die geskiedenis dat die sittende Amerikaanse president die derde plek beklee.

Volgens die berig in die tydskrif het Obama se invloed drasties gedaal en ondervind hy dit moeilik om enige invloed uit te oefen of om iets gedoen te kry.

Dit is die derde jaar in ’n ry dat pres. Poetin as die magtigste persoon aangewys word, en sy optrede teen terroriste in Sirië het daartoe bygedra dat hy weereens as ’n dinamiese leier beskou word.

Forbes sê Poetin het bewys dat hy die magtigste persoon is deur te doen wat hy dink goed is, en kom boonop weg daarmee, wat ’n radikale verskil is teenoor Obama wat sukkel om in sy eie land goedkeuring te kry vir sy idees.

Kanselier Merkel het van verlede jaar se vyfde plek na tweede geklim wat hoofsaaklik toegeskryf word aan haar optrede in die EU rakende die onwettige migrante en die inisiatiewe met die skuldlas van EU lidlande.

Forbes beskryf haar ook as “die mees magtige vrou in die wêreld” en het met haar bestuurstyl Obama uitgedruk na die derde plek.

Pous Francis word in die vierde plek gelys, met die Sjinese president Xi Jingping in die vyfde posisie.

Die tydskrif het in sy verslag die 73 mees invloedryke en magtige politieke en finansiële leiers gelys uit riglyne van sosiale impak, die terreine van invloed, die finansiële bronne en algemene handelinge.

Van die 73 wat op die lys verskyn, is slegs 9 vroulike leiers.

Onder die nuwes wat die lys gehaal het, is Hillary Clinton en Donald Trump, albei kandidate vir die presidentsverkiesing van Amerika.