Omdat ek weer mag…

Ek het al oor die optimisties benaamde SANW geskryf maar ek is altyd bly as ek weermag! Hierdie keer wil ek reageer op die mense se skok oor die nuus dat die land se magte in die DRK blykbaar hulle tyd deurbring met partytjies (waarvan sommige uitsluitlik vir senior offisiere) en prostitute (selfs minderjariges). Een majoor is blykbaar selfs deur ‘n bordeel as gyselaar aangehou! (Die Vryburger het ‘n tyd gelede ook berig oor hoe die weermag en die polisiemag bykans met mekaar oorlog gevoer het omdat ‘n offisier in ‘n kroeg gearresteer was). Die beste van alles is dat die weermag in die DRK geval met alles tot sy beskikking tog maar hul wapens neergelê het en die losprys van $2500 gaan betaal het! Dit laat mens die vraag vra dat as die weermag bereid is om ‘n gearresteerde makker met geweld te wil ontset uit polisieselle, maar nie die wapen wil opneem teen vier veertienjarige prostitute en hul bejaarde oupa-pimp nie, is dit dat omdat hulle meer intimiderend as die SAPD is of het die dames dalk gedreig om te staak!?

Maar ek dwaal af. Die mense is geskok. Ek is ook geskok, maar nie oor die gedrag van die soldate nie, maar oor die mense daaroor geskok is! Kom ons wees nou maar eerlik, dié ouens het ons in die Sentraal Afrika Republiek gewys dat oorlogvoering nou nie juis hulle sterk punt is nie. Tog hoort hierdie dinge nie so nie en ek het ‘n korrespondent gestuur om buite die basis te sit met ‘n afluisterapperaat om te hoor of ons iets in gesprekke kan optel van wie hierdie mense is. Verder is ook braaigesprekke van oud-weermaglede en militêre kenners afgeluister. My korrespondent se sousboontjieblikkies en baaltou het alle verwagtinge oortref en ons het gebroke gesprekke gehoor waaruit ons die volgende wys kon raak.

In die afgeluisterde gesprekke van militêre kenners is talle kere verwys na iemand in die weermag met die naam General Uselessness. Ons kon nie sy voornaam hoor nie, maar hierdie ou is blykbaar een van die grootste oorsake van die weermag se probleme. In dieselfde trant is verneem van ‘n sekere Major Incompetency, weereens geen voornaam, net die rang, maar hierdie ou is waarskynlik kop in een mus met die Generaal.

In die kamp self was daar nog name genoem. Dit blyk dat die kamp basies regeer word deur ene Captain Morgan. Hy is taamlik ongewild. Daar word gereeld van hom gesê dat iemand te veel van hom gehad het. Tog is omtrent almal blykbaar van hom afhanklik. ‘n Ander, blykbaar baie ongewilde karakter is ‘n Colonel Burger. Almal is gedurig “lus” vir hom en daar word gereeld deur soldate gesê hulle sal hom “kry”.

Dit is blykbaar nie net offisiere wat skuldig is nie. Daar is gereeld melding van ene Private Parties wat so onaantasbaar is dat die troepe nooit toegang tot hom het nie. Daar word ook gereeld gepraat van Private Parts wat blykbaar vreeslik siek is en oortrek is met ‘n uitslag wat verskriklik jeuk en brand.

Dit moet ook bygesê word dat daar ook pluimpies is. Blykbaar was daar een ou wat die vermoë gehad het om die meeste dissiplinêre probleme vinnig en effektief uit te sorteer. Sy naam was Corporal Punishment, maar hy is blykbaar jare terug reeds uit die weermag verban.

Dan is daar een ander positiewe vermelding. Daar is baie opgewonde verwysings na die talente van ‘n spesifieke spesialiseenheid genaamd stitutes. Dit moet nuut wees want ek ken dit nie (dalk iets met nuwe tegnologie te doen). Ek weet nie, maar blykbaar is daar een of meer stitutes wat uitstekend is (sommige is blykbaar boonop nog tieners!) Hulle is egter so goed dat hulle beskryf word as pro stitutes! Wie weet, dalk is daar tog hoop vir die weermag?

Tot volgende slagdoppie

Die Sweep