Obama waarsku Sjina

Die Amerikaanse president, Barack Obama, sê dat Sjina moet sy optrede staak om land te probeer “herwin” as hul eiendom, soos wat in die Suid-Sjinese See gedoen word met die bou van kunsmatige eilande.

Die opmerkings het hy gemaak tydens sy besoek aan die Filippyne waartydens hy en die eiland se president Benigno Aquino, samesprekings gevoer het.

Obama het gesê hy sien uit na samewerking met die eilandbewoners om die “water roete” se probleme op te los wat tans in dispuut is.

Sjina eis die gebied op wat in die Suid-Sjinese See geleë is, maar Vietnam, Malaysia, Filippyne en Taiwan beweer hulle het self ook regte in die gebied.

Washington en Beijing is tans in ’n dispuut gewikkel oor die kunsmatige eiland wat Sjina buite sy gebiedswaters gebou het, maar dit nou opeis as deel van sy gebied.

Die VSA het vlugte oor die gebied gedoen en selfs ’n oorlogskip in gestuur, wat Sjina genoop het om waarskuwings te rig waaraan die VSA hulle nie gesteur het nie.

Amerika se standpunt is dat die sogenaamde “Spratley Islands” in internasionale gebied gebou is, terwyl Sjina meen dit is geleë binne sy gebiedswaters.

Ingeligte waarnemers meen die dispuut kan ontwikkel tot ’n volskaalse oorlog tussen die twee groot moondhede as die Verenigde nasies nie ’n bevredigende oplossing kan bied nie.

Intussen bou die spanning tussen die twee lande op, en die Obama-inisiatief met die vestiging van sy “Ekonomiese Forum” waarby 21 lande betrokke is, sukkel om besluite te neem weens die ongemaklike verhouding met Sjina.

Foto – Barack Obama