Nog reaksie op vliegtuigdrama

“Verander dadelik van koers” is die boodskap wat Turkye nou wêreldwyd versprei as die boodskap wat aan die Russiese vegvliegtuig gestuur is voordat die missiel afgevuur is.

Die waarskuwende boodskap is vrygestel deur Turkye nadat die oorlewende Russiese vlieënier gesê het dat hulle geen waarskuwing van enige aard ontvang het nie.

Die opname wat vrygestel is, het eers twee dae nadat die beskuldigings gemaak is dat geen waarskuwing tot die Russiese vliegtuig gerig is, beskikbaar geraak, wat ontleders die vermoede gee dat die “waarskuwing” agterna gefabriseer is deur iemand van die Turkse lugmag.

Die Russiese Minister van Buitelandse Sake, Sergei Lavrov, het telefonies met sy eweknie John Kerry van die VSA geskakel kort na die aanval uitgevoer is, en albei het saamgestem dat die aangeleentheid met kalmte benader moet word.

Die Russiese president, Vladimir Poetin, het verskeie kere daarop gewys dat sy twee vlieëniers albei met valskerms neergesak het en op Siriese grond geland het, sowat drie tot vier kilometer weg van die Turks-Siriese grens.

Die oorlewende vlieënier het later aan die media gesê hy ken die gebied en dit is onmoontlik dat hulle die lugruim van Turkye sou ingaan, en vind die optrede van diie Turkse vlieënier baie vreemd.

 “Geen sigbare of enige radio waarskuwings is gegee nie” het hy gesê.

 “Indien ons wel die lugruim geskend het, moes die Turkse vegvliegtuie langs ons begin vlieg het en waarskuwings gegee het, maar dit het nie gebeur nie”, het die vlieënier verduidelik.

“Ons het op 6.000 meter hoogte gevlieg, die weer was helder en ek kon my kaart duidelik en perfek sien, en daarom sê ek ons was nie in Turkse gebied nie”, het ’n kalm Russiese vlieënier gesê.