Nog motor fabrikante word ondersoek

Die Verenigde State van Amerika het sy ondersoek uitgebrei na ander fabrikate soos Porsche en Audi, wat verbind word aan die Volkswagen groep.

Die luukse motors van Porsche en Audi kan moontlik deel vorm van Volkswagen se sogenaamde diesel-skandaal.

Onbevestigde berigte dui daarop dat die Duitse motorvervaardiger ook gebruik gemaak het van die rekenaar sagteware in sy luukse voertuie wat nou ondersoek word.

Dit blyk dat Audi en Porsche sedert 2014 ook gebruik gemaak het van die sagteware op hulle kragtige 3 liter modelle.

Onder die diesel modelle wat nou onderwerp word aan toetse, is die lukkse Porsche Cayenne Sport, en vyf Audi modelle waarby die A6 en Q5 SUV ingesluit is.

Intussen word gerugte rondgestuur dat verskeie ander vervaardigers ook met ’n kullery besig is in hulle diesel modelle, maar wat tot hede doodgesmoor word.

Indien dit bevind sou word dat die vervaardigers ook deel vorm van die skandaal, gaan dit Volkswagen nog verder belas met boetes en eise.

Volkswagen het egter ontken dat sy luukse voertuie ook met foutiewe sagteware toegerus is, en het ondersoeke daarna verwelkom.

Tans is die vervaardiger opgesaal met sowat 11 miljoen motors in die wêreld wat waarskynlik onderwerp is aan eise, en Volkswagen het die verantwoordelikheid om die fout reg te stel in die voertuie.