My vreugde oor bankier

Ek moes onlangs saam met iemand na sy bank gaan om ’n bietjie geld te onttrek om die daaglikse kleiner goedjies te betaal wat nie per kaart gedoen kan word nie.

En wat beleef ek?

Eers die OTM, die tou mense is te lank.

Ons storm die bank binne, nog ’n tou mense.

Ons kom uiteindelik voor by die kassier en word tradisioneel gegroet.

“How are you” en toe ons loop “Have a lekker day”

Maar eers moes die vriend saam met sy tjek ook sy ID boek as bewys oorhandig.

Toe ons buite kom, vertel ek hom van my bankier:

Jy stap in, niks rye mense voor jou nie.

Jy word op jou voornaam gegroet en in Afrikaans bedien, deur jou eie mense wat opreg na jou welstand verneem.

Jy word blitsvinnig bedien want al die personeel ken elke kliënt.

Geen bewyse nodig van wie jy is nie – jy is ’n aandeelhouer.

Niks kredietkaarte om jou skuldlas hoër te jaag nie, net ’n debietkaart waarmee jy die hele wereld deur reis sonder betalings probleme.

En as jy uitstap, keer die Besturende Direkteur jou dalk voor, nooi jou vir ’n koffietjie in sy kantoor waar ons oor alles behalwe geld gesels.

O, amper vergeet ek – dis my bank, Oranjekas.

Dirk Vermeulen