Motor rubriek – Mercedes – AMG C63s

Wanneer die naam Mercedes Benz in ‘n mens se gedagtes kom dan sien ‘n mens ‘n uiters betroubare motor wat eintlik ‘n konserwatiewe bouvorm gehad het.  Daar was wel die S-reeks met die sportiewe bouvorm. Vandag lyk die prentjie so effe anders. Dit is nog steeds ‘n baie betroubare motor maar die bouvorm het aansienlik verander. Die suksesse wat in die verlede op die renbaan behaal is, is ook legio. Dit word vandag voortgesit.

Mercedes – AMG Duitsland is egter nie tevrede met gewone motors nie.  Die motors word met die hand gebou en dan word daar verdere ontwikkelingswerk aan die kragbron gedoen en na hierdie ontwikkelings is dit so goed as renbaan gereed. Die motor wat gedurende 2012 beskikbaar was se kragbron was ‘n 6.2 liter V8 sonder turbo ondersteuning. Die jongste weergawe gebruik ‘n 3982 kub. sentimeter V8 kragbron met twee turbo-aanjaers wat in die V- gedeelte van die silinderkop gemonteer is. Dit ontwikkel meer krag en wringkrag as die 2012 weergawe. Daar is twee weergawes beskikbaar nl. die gewone C63 wat 350 kilowat ontwikkel en die wringkrag is 650 Nm. terwyl die C63s 375 kW en 700 Nm. wringkrag voorsien. Die verskille tussen hierdie twee motors is bykans nie opmerklik nie en is slegs beperk tot die bekleedsel en ‘n “Race” embleem wat op die sitplekke gepas is en ander klein veranderings.

Daar is ander bykomende toerusting wat bestel kan word sodat die motor die eienaar se eie unieke geaardheid kan weerspieël. Van hierdie toerusting is 19 duim wiele met ‘n rooi strepie op, spesiale voorste sitplekke, kopstutte met die AMG embleem op en rooi stiksels aan die bokant van die instrumentpaneel.

Die meeste hoëspoed motors se spoed word beperk tot 250 km/u.  Vir ‘n bykomende R13,500 is die motor beskikbaar met ‘n spesiale pakket wat die spoedbeperking in werking laat tree teen 290 km/u.

Standaardtoerusting wat gepas is sluit in geheue stelling vir die voorste sitplekke, aktiewe parkeerbystand, AMG MCT outomatiese ratkas, LED ILS hoofligte,Command On-line navigasie, outomaties beheerde lugversorger en ‘n Burmester hoëtrou radio. Daar is 7 lugsakke en alle ander noodsaaklike elektroniese veiligheidstoerusting.

Die tegniese inligting is indrukwekkend. Die kragbron wat gebruik word is ‘n 3982 kub. sentimeter, 32 klep, V8 enjin en die dubbele nokas word deur ‘n ketting aangedryf. 375 kW is beskikbaar tussen 5500 en 6250 o.p.m. en die wringkrag van 700 Nm. is beskikbaar tussen 1750 en 4500 o.p.m. Volgens AMG neem dit slegs 4 sekondes om van 0 tot 100 km/u te versnel. Die topsnelheid is 290 km/u(beperk) en die brandstofverbruik is 12.3 l/100 km.

Na verneem word is die prys R1,217,595. Dit is wel ‘n aansienlike hoeveelheid geld maar uiteindelik kan dit ‘n goeie belegging wees in ‘n motor van formaat.