Motor rubriek – Infiniti Q50 2.0t Sport

Die Infiniti Q50 is ‘n betreklik onbekende motor en derhalwe een van die mees onderskatte motors in die motorwêreld. Wanneer daar egter na ‘n bewese rekord van hierdie voertuig gekyk word, besef ‘n mens dat dit ‘n motor van formaat is.

Die volgende toekennings is al deur hierdie motor verwerf. 2014 het dit die volgende toekenning verwerf: Edmunds.com die hoogste gegradeerde motor vir 2014 en ook die motor van die jaar en beste ontwerpte motor in Korea gedurende 2015. 2014 was dit ‘n finalis in die “Motor van die jaar” kompetisie. Verder het dit die hoogste veiligheidsgradering verkry vanaf IIHS en NHTSA. Dit is prestasies om mee rekening te hou.

Daar is twee modelle beskikbaar naamlik Premium en Sport. Op beide hierdie modelle kan op versoek van die kliënt bykomende toerusting gepas word wat die smaak van die van die eienaar sal weerspieël. Op die Sportmodel kan daar teen ‘n koste van R21,800 die “Welcome” pakket gepas word wat dit dan laat verskil van die Premium model.

Hierdie pakket bestaan uit ‘n banddruk moniteerder, elektriesbeheerde wegvou deurspieëls, stuurkolom met reik afstand beheer, voorste sitplekke met hoogte verstelling en nog ander elektries beheerde toerusting.

Van die standaard toerusting wat deel van die voertuie vorm is spoedbeheer, pad baan verandering voorkoming, blindekol waarskuwing, ongeluk voorkomende waarskuwing, outomaties hooflig verstelling wanneer daar passasiers in die voertuig is, LED kolligte voor en agter, outomaties beheerde lugversorger en outomatiese reën gevoelige windskerm veërs. Die hoofligte en kolligte vorm deel van die sierrooster met die Infiniri kenteken in die middel van die sierrooster gemonteer.

Die kragbron wat gebruik word, is ‘n 1991 kub. sentimeter M274, ketting aangedrewe dubbel oorhoofse nokas, 16 klep, vier silinder turbopetrol enjin deur Mercedes Benz verskaf. Die ratkas word ook deur Mercedes Benz verskaf en dit bring teweeg dat dit ‘n baie goeie kombinasie is. Die kraglewering is 155 kW teen 5500 o.p.m. en die wringkrag is 350 Nm tussen 1250 en 3500 o.p.m. Na verneem word neem die versnelling van 0 tot 100 km/uur 7,2 sekondes en die maksimum snelheid is 245 k/uur.

Soos in die begin geskryf is hierdie ‘n onderskatte motor en om dit werklik na waarde te kan evalueer, moet dit vir ‘n toetsrit geneem word. Dit is luuks en die padhouvermoë is van hoogstaande gehalte.