Moratorium op handel in renosterhoring opgehef

‘n Aansoek deur twee renostertelers dat die moratorium op die plaaslike handel in renosterhoring ter syde gestel moet word, is deur ‘n volbank regters in die Pretoriase hooggeregshof ter syde gestel.
Die aansoek is deur twee renostertelers, Johan Krüger en John Hume gebring.
Die moratorium is in Februarie 2009 deur Marthinus van Schalkwyk, destydse Minister van Omgewingsake, ingestel. Krüger en Hume het die geldigheid daarvan uitgedaag.
Volgens hulle is die letter van die wet nie na behore uitgevoer nie en is telers nie persoonlik vir openbare deelname genooi voor die beoogde moratorium nie.
Regter Francis Legodi het Donderdag in die volbank (van drie regters) se uitspraak gesê die moratorium word ter syde gestel omdat daar nie voldoen is aan die konsultasie-en-deelnameproses vir lede van die publiek soos wat in art. 99 en art. 100 van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en Biodiversiteit (Nemba) voorgeskryf word nie.
Legodi het gesê die moratorium het ‘n rol gespeel in die styging in renosterstropery. Volgens hom is die omvang van horingsmokkelary of onwettige uitvoer daarvan omdat toepaslike maatreëls nie voldoende in werking gestel word nie.
Volgens Hume sou die moratorium slegs vir ses maande geduur het en dit is nou al ses jaar van krag. Hy het gesê dat sy belegging in renosters waardeloos is weens die moratorium.