Mielie invoere sal skerp styg

Vanjaar sal die invoer van mielies skerp styg weens die versengende hitte en erge droogtetoestand in die grootste deel van Suid-Afrika waar mielies verbou word.

Na verwagting sal sowat 850,000 ton mielies ingevoer moet word om te voorsien in die binnelandse behoefte.

Hiervan het meer as die helfte reeds deur die doeane gegaan en word versprei na die verskillende silo’s van die land waarin dit opgeberg word.

Kenners wys daarop dat die moontlikheid nie uitgesluit is dat Suid-Afrika selfs veel meer mielies sal moet invoer as dit blyk dat boere hulle diere weens die droogte moet voer nie.

Die uiteindelike verbruik sal egter bepaal hoeveel mielies nog ingevoer moet word, maar landboukenners is dit eens dat die invoere nog verder kan styg, afhangende die veld en weidingstoestande gedurende die wintermaande.

Suid-Afrika is nie altyd selfvoorsienend aan mielies nie, en moet jaarliks sowat 350,000 ton invoer om te voldoen aan die binnelandse vraag, maar vanjaar sal die totale tonnemaat wat ingevoer word, minstens verdubbel.