Melkbos / Euphorbia mauritanica

Aangesien ons land in ‘n droogtetoestand verkeer, is vetplante net die aangewese plante om te koop en plant hulle sommer volop. Daar is so ‘n groot verskeidenheid en hulle word ook mooi groot en dra ook pragtige blomme. Vetplante is eintlik uniek en as u dalk ‘n vetplant kwekery of vetplant plaas in u omgewing het, besoek dit gerus en u sal sommer baie gou verlief raak op hierdie plante.

Euphorbia mauritanica is inheems van Afrika en het bekend geword in Europa voor die 18de eeu. Daar word geglo dat dit oorspronklik in Mauritanica in noordwes Afrika gevind was.

Euphorbia mauritanica of melkbos of ook genoem giftige melkbos, is ‘n doringvrye struik en is uiters droogtebestand. Dit is ‘n immergroen plant wat koue en ryp goed weerstaan asook winderige toestande. Melkbos word sowat 1,5 meter hoog en groei baie vinnig. Hulle kan selfs meer as 2 meter wyd groei. Hierdie plante kom wydverspreid voor regoor die land maar veral in die Noord-Kaap. In sommige gebiede word hulle uitgeroei omdat hulle redelik vinnig vermeerder en oral opkom. Dit vorm ‘n mooi fokusplant in die tuin en kan ook in potte geplant word. Plant in halfskadu tot volson.

Melkbos het silindervormige, liggroen, sagte sytakke wat dig opmekaar groei vanuit ‘n dik wortel.  Die takke is vlesig en lyk of daar baie klein blaartjies op is. Die takkies is glad en klein geel blommetjies verskyn op die punte van die takkies in die lente. Hierdie blommetjies vertoon pragtig op die punte en kom in groepies voor. Natuurlik lok hierdie blommetjies bye en skoenlappers na die tuin.

Wees versigtig vir hierdie plant, dit word nie verniet die gifbos genoem nie. Wanneer ‘n takkie breek of beskadig word, gee dit ‘n melksap af wat velirritasie kan veroorsaak. Dra dus liewe handskoene wanneer u met hierdie plant werk.

Onthou dat dit raadsaam is om altyd met handskoene in die tuin te vroetel. Geniet u tuin tot volgende keer en mag u heerlike reën ontvang. Wees versigtig vir die son en bly in die skadu’s van die heerlike groot bome.