Klein kerkie vier Hervormming

‘n Plaaskerkie wat deur die boereprediker, Manie Earle en sy gesin gebou is, het ook die afgelope naweek die herdenking van die Hervorming gevier.
Die kerkie is op die plaas Kalkfontein tussen Bultfontein en Theunissen.
Volgens Earle (61) is die kerk die enigste van sy soort in die Suidelike Halfrond. In die Noordelike Halfrond is daar ook een.
Die boereprediker het uit Openbaring 2 voorgelees. Hy het onder meer gesê geen profesie van die Skrif is ’n saak van eie uitlegging nie, want “geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar deur die Heilige Gees gedrewe”.
Die kerk het 32 lidmate, maar sowat 150 mense van die omgewing is na die herdenkingsfees genooi.
Die mans was in pakke geklee en die vroue en meisies, geklee in netjiese rokke, moes hoede dra.
Vir die vrouens wat nie hoedens gehad het nie, was daar in die ingangsportaal ’n rak met hoede.
Die kerk is in 1992 deur oom Manie begin. Hy sê hulle verkondig ‘n suiwer Gereformeerde Calvinistiese leerstelling.
Hy en familielede het die kerk in 1992 gebou. Die netjiese kerkie is binne ses maande voltooi.
Die kerkbanke, versierings en preekstoel is alles met die hand gemaak. Een van die binnemure is met sandsteen gebou wat van die plaas af kom.
Aanvanklik het hy begin om preke van bekende predikers in die kerk voor te lees, maar drie jaar gelede het hy preke uit Nederlands vertaal en aan die gemeente voorgelees.
Handgemaakte horlosies, skinkborde, glase en skilderye is onder meer uitgestal en te koop aangebied.
Baie soos die Amishgemeenskappe in Pennsylvania in Amerika, sê Earle dat hy en sy mense leef in afsondering. Die kinders en kleinkinders ontvang tuisondderrig.
Ander mense van die omgewing is ook deel van die gemeente.
Op die plaas werk alles met sonkrag. Daar is nie ‘n televisiestel op die plaas nie want hulle het nie ‘n begeerte na die dinge van die wêreld nie, sê Earle.
Foto van ‘n plaaskerk ter illustrasie.