Kanada verloor finansiële aansien

Die Kanadese het hulle dekades lange verbintenis en status as die grootste handelsvennoot van Amerika verloor nadat Sjina die posisie ingepalm het.

Gedurende die afgelope jaar het Sjina se handel met die VSA sodanig toegeneem dat hulle Kanada uitgestof het en nou die eerste plek ingeneem het.

Die daling in die waarde van olie uitvoere van Kanada is een van die belangrikste redes waarom die VSA se handel met Sjina verby die VSA–Kanada handel gegaan het.

Sjina se handel met die VSA vir die eerste nege maande van 2015 se waarde het op $441,6 biljoen te staan gekom, terwyl die handelswaarde tussen Kanada en die VSA op $438 biljoen was.

Die jongste inligting het Kanadese sakemanne en nyweraars bekommerd, en tydens ’n vergadering van nyweraars is bevestig dat Kanada sy sokkies moet optrek as hy weer die voorste handelsvennoot van die VSA wil wees.