Hospitaal in verlede ook beboet

Die Durbanse hospitaal wat volgens ‘n berig wat verlede week verskyn het, ‘n kankerlyer se nier per abuis weggesmyt het, is vantevore ook beboet.
Derrick Rodgers, die pasiënt wie se nier weggegooi is, oorweeg dit om die Netcare-St. Augustine-hospitaal oor die aangeleentheid hof toe te sleep.
Die hospitaal se vorige boetes hou verband met misdrywe in onwettige orgaanoorplantings.
Die hospitaal het erken die nier is per abuis weggegooi en het gesê stappe word teen van sy personeellede gedoen.
Maar ‘n paar jaar gelede is die hospitaalgroep ’n boete van R20,000 opgelê weens die oortreding van die Wet op Menslike Weefsel.
Hulle moes ook R4 miljoen terugbetaal ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad, van geld wat vir nieroorplantings geskenk was.