Hollande werf steun vir geveg met IS

President Francois Hollande van Frankryk het na afloop van sy besoek aan die VSA, ook steun gekry van Bondskanselier Angela Merkel van Duitsland om ’n grootskaalse geveg te begin met die Islamitiese Staat- terroriste.

Die optrede van die Franse president volg nadat 130 onskuldige mense gedood is in bomaanvalle wat in die Franse hoofstad Parys uitgevoer is deur Islamitiese Staat (IS) terroriste.

Hollande se toer deur die wêreld het hom by Duitsland gebring wat onderneem het om betrokke te raak by die beoogde uitwissingsprojek van Frankryk.

Die Vryburger het vertroulik verneem dat Hollande se tog voortgesit word, met Rusland as volgende besoekpunt om met pres. Vladimir Poetin gesprek te voer in die hoop om ook sy steun te werf.

Merkel het te kenne gegee dat Duitsland verkies om ekonomiese maatreëls in te stel om IS te beveg, maar Hollande het glo gehoop dat sy naaste bondgenoot meer sou bydra om die terroriste vas te vat.

Kanselier Merkel het egter toegegee dat die IS magte nie met woorde tot inkeer gebring kan word nie, maar wel met kragtige militêre optrede teen hulle.

Waarnemers meen die gesamentlike optrede van die groot moondhede kan die einde van die IS magte beteken, maar dit is onseker of die lande daarin gaan slaag om indiwiduele terroriste vinnig genoeg kan vasvat om ’n volgende bloedbad te voorkom.

Foto – Merkel en Hollande