Hoekom kruip linkses so?

Hoewel dit drie jaar se navorsing was en Afriforum byna ‘n R1 miljoen gekos het om te maak, is die organisasie so half verskonend oor die projek.
Ernst Roets, uitvoerende adjunkhoof van AfriForum en medevervaardiger van die dokumentêr Tainted Heroes sê hulle het die dokumentêr gemaak oor die gewelddadigheid van die ANC tydens apartheid, “sodat die wêreld kan sien Afrikaners was nie die enigste sondaars nie”.
Hy sê ook dat die Afrikaner word dikwels as die booswigte uitgebeeld, maar die ANC was nie engeltjies nie.
Die film bevat onderhoude met geskiedkundiges, navorsers en voormalige ANC-hoës. Beeldmateriaal uit nuusargiewe wys halssnoermoorde, die massamoorde by Boipatong, die Kerkstraatbom en ander geweldpleging in die naam van die “struggle.”
Dit fokus veral op hoe die ANC swart mense afgemaai het wat nie met hul ideologie, werkwyse of ideale saamgestem het nie, en nie geskroom het om onskuldige burgers te teiken nie.
Bekendes soos die historikus Hermann Giliomee, die oudpolitikus Ronnie Kasrils en Constand Viljoen, voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag, lewer ook insette.
Hy sê die rede waarom die fliek in Engels is, is omdat AfriForum graag die rolprent aan mense in die buiteland wil wys en dit na rolprentfeeste wil neem.
Die kersie op die koek kom van Dr. Leon Wessels, menseregtekommissaris en oud-NP-minister, wat ’n sleutelrol gespeel het met die opstel van die land se Grondwet.
Hy sê daar is altyd ruimte vir verskillende sienings en perspektiewe oor die geskiedenis.
Hy sê die dokumentêr maak die deur oop vir debat en ‘n mens kan nie in die verlede leef nie, maar dit is belangrik om die geskiedenis te ken, sodat jy nie oor die verlede struikel nie.
Kenners wys op Wessels se woordeslaai en sê ‘n feit is ‘n feit en nie ‘n debatspunt nie.