Histories benadeeldes word gehelp

Die sogenaamde benadeeldes van die verlede moet 50% van die Amerikaanse hoendervleis hanteer wat as kwota ingevoer word.

Dit beteken dat die hantering van die hoendervleis slegs toegestaan sal word indien bewys gelewer word in die aansoek dat sodanige aansoekers voorheen benadeeldes is.

’n Woordvoerder van ’n Oranje Sakekamer het daarop gewys dat dit beteken die helfte van die ingevoerde hoendervleis moet gekoop en verkoop word deur swart mense wat “voorheen benadeel” was.

Die besondere riglyn is opgestel oor hoe aansoeke vir die kwota-permitte hanteer sal word in Suid-Afrika om die sogenaamde histories benadeeldes te bevoordeel.

Die riglyne is aan die begin van November gepubliseer deur die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (ITAC) en kommentaar kan ingedien word tot 13 November.

Suid-Afrika se regime het geswig onder Amerikaanse druk en toegegee daaraan om deel te wees van die VSA se wet op “groei en geleentheid” om 65,000 ton gevriesde hoendervleis in te voer teen spesiale invoer tariewe en voordele.

Kenners meen die invoer van hoendervleis uit die VSA sal die plaaslike hoenderboere ernstig benadeel, en ’n wesenlike invloed uitoefen op die prysstruktuur en kan ’n waarneembare afname in gehalte beteken.