Het terroriste ‘n bom geplant?

Amerikaanse deskundiges dink die moontlikheid bestaan dat die Islamitiese Staat (IS) ’n bom geplant het in die Russiese vliegtuig wat in vlug uitmekaar gebars het en oor die Egiptiese woestyn van Sinai neergestort het.

Alhoewel die beste gegewens verkry kan word van die “swart kassie” wat reeds gevind is, het Amerika ’n reeks foto’s gekry van ’n satelliet wat data versamel.

Vroeër het Amerikaanse deskundiges beweer dat dit duidelik is dat geen missiel die vliegtuig neergeskiet het nie, maar die beskikbare gegewens dui glo dat die vliegtuig uitmekaar gebars het wat die moontlikheid van ’n bomontploffing versterk.

Die bewering word gemaak dat ’n kragtige bom in die bagasieruimte van die vliegtuig ontplof het, en die vermoede bestaan dat die tydbom in ’n koffer versteek was.

Die Russiese owerheid het geen verdere uitsprake gelewer oor die voorval nie, en wag die bevindinge af van die ondersoekers.

Ondersoekers van Egipte en Rusland is tans besig met die ontleding van besonderhede wat in die “swart kassie” opgesluit is.