Groot bedrog by Afro4000-lokomotiewe

Die omvang van die korrupsie wat verband hou met die Afro4000-lokomotiewe kan nog nie presies vasgestel word nie.
Hierdie erkenning is deur die voorsitter van die Prasaraad, Popo Molefe gedoen.
Sy standaardantwoord aan die Staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) was dat die aangeleentheid nog ondersoek word.
Sonder om name te noem het hy egter duidelik die skuld op die voormalige groephoof, Lucky Montana en Daniel Mtimkulu, voormalige ingenieurshoof, wat hom as ’n doktor voorgedoen het, geplaas.
Besonderhede oor die toekenning van die Afro4000-kontrak het egter na vore gekom.
Volgens Molefe was die aanvanklike bod vir Euro3000-lokomotiewe, wat aan alle standaarde sou voldoen. Dit is egter deur die voormalige groephoof en die man aan die hoof van ingenieursdienste verander, het Molefe gesê.
Vervolgens is die Euro3000-lokomotiewe verander na die omstrede Afro4000-lokomotiewe. Dit was massiewe bedrog want geen behoorlike ontwerp is gedoen nie, het Molefe gesê.
Prasa het in die vorige boekjaar onregmatige besteding van R550 miljoen aangegaan. Sowat R357 miljoen hiervan hou verband met die kontrak vir die lokomotiewe.
Prosedures is nie gevolg nie. Die kontrak moes nie onderteken word nie, het Zodwa Manase, Prasa-raadslid en hoof van die ouditkomitee, gesê.
Prasa moet teen die einde van volgende week ’n lys verskaf van al die ondersoeke wat hulle doen, asook wanneer die ondersoeke afgehandel gaan wees.
Foto: Afro4000-lokomotief