Gewonde pa skiet dood

Tussen vier en 5 terroriste het Maandagaand ‘n gesin in hulle huis in Lyttelton aangeval. Hoewel hyself swaar gewond was, het die pa een van die terroriste doodgeskiet.
Die terroriste het toegang tot die huis verkry toe hulle vermoedelik die elektroniese motorhek van die spoor gelig het, sê Lourens Botha, voorsitter van die Lyttelton Sektor 2-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF).
Die man is in die bors geskiet en is in ’n kritieke toestand. Sy vrou is in die arm geskiet en moes ’n operasie ondergaan.
Botha sê hulle het 20:50 ’n noodoproep ontvang. “Ons patrolleerders was juis in die omgewing, so hulle was binne minder as ’n minuut op die toneel. Toe het die skote reeds geklap,” sê hy.
Die GPF-lede het onmiddellik na die voortvlugtige terroriste begin soek. Twee is ‘n blok van die huis af gevind.